Vraagtekens oor padongelukfonds

Vrae het ontstaan oor die uitbetalings wat deur die Padongelukfonds (POF) gemaak word aan beseerdes nadat regslui eise ingestel het namens hulle kliënte.

Die POF moet op ’n gereelde basis uitbetalings maak aan beseerdes nadat ’n hof daaroor uitspraak gelewer het.

In een so ’n geval is bykans R8 miljoen uitbetaal aan Seluleko Ngubo (15) nadat hy as ’n passasier beseer is in ’n motorongeluk.

Die voertuig waarin hy was, het glo teen ’n hoë spoed gery, was hopeloos oorlaai, met bande waarvan die druk onvoldoende was.

Sy regsverteenwoordigers het in die hof aangevoer dat hy dalk ’n dokter kon word, en nou weens die ongeluk ’n groot verlies aan inkomste sal ondervind.

Benewens die bedrag wat betaal moes word, is die POF ook verantwoordelik om toekomstige behandeling wat verband hou met die ongeluk, te betaal.

 

Seluleko het glo kognitiewe inperking, frustrasie en angs opgedoen weens die ongeluk.

Sy ma, Virginia (46), het namens haar seun R14,5 miljoen van die fonds geëis.

Hy is beskryf as besonder intelligent, maar na die ongeluk wat plaasgevind het toe hy 4 jaar oud was, het hy gesukkel om te spel en sy handskrif is nie netjies nie.

’n Kenner het glo beweer Seluleko behoort steeds matriek te slaag en selfs verder kan studeer.

Die hof het die POF beveel om die kenners wat in die hofsaak opgetree het, almal te vergoed.

Daar was 16 kundiges wat in die hof getuig het.

Ingeligte waarnemers is egter van oordeel dat die POF waarskynlik te veel gevalle het waar betalings gemaak moet word op onbewysbare veronderstellings.

In die gestelde voorbeeld, is daar geen wetenskaplike bewyse gewees dat ’n vierjarige voor die ongeluk as bogemiddeld intelligent getoets is nie, word gesê.

Dit beteken nie dat die POF nie ’n betaling moet maak nie, maar daardie betaling behoort geskoei te word op besliste feite wat voor die hof gelê is, was die mening van ’n kenner op die gebied.