Voortgesette politiekery in landbou

Die ANC-SAKP-Cosatu-alliansie in die Wes-Kaap het die adjunk-president, Cyril Ramaphosa, betrek in hul politieke veldtog op landbougebied.

Ramaphosa het na ‘n vergadering in die Paarl aangekondig dat ‘n moratorium onmiddellik geplaas gaan word op alle “wettige en onwettige afsettings van plase”. Volgens hom is dit ‘n noodmaatreël om die onrus in die bedryf by te lê en sal tot aanstaande jaar geld totdat daar weer ‘n opvolgvergadering oor die saak gehou is.

Die stap is baie skerp in landboukringe gekritiseer as politiekery wat die bedryf baie ernstig gaan skaad.

Daar word die afgelope tyd voorbrand in die provinsie gemaak vir ‘n herhaling van die massa-stakings en afbrand van eiendom soos in 2012. Die Wes-Kaapse Cosatu-leier, Tony Ehrenreich, en Bawusa se aanvoerder, Nosey Pieterse, is soos destyds ten nouste betrokke by die organisering van die huidige veldtog. Dreigemente van plaasbesettings en ‘n “tweede Zimbabwe” is vanuit hierdie kringe gemaak.

Die magvertoning in die Wes-Kaap is waarskynlik gemik daarop om die beeld van die ANC-SAKP-Cosatu-alliansie te bevorder aangesien Cosatu die afgelope tyd dreig om uiteen te spat weens ‘n leierskapkrisis. Ramaphosa is nog kort gelede uitgekryt deur die EFF, en spesifiek deur Julius Malema, wat aangevoer het dat die adjunk-president “bloed aan sy hande” het weens sy vermeende betrokkenheid by die Marikana-slagting.

Foto – Tony Ehrenreich