Veiligheid word misbruik

Die ANC-bewind behoort ‘n lys van die sowat 200 nasionale veiligheidpunte in die land bekend te maak, voer die Right2Know Campaign (R2K)-veldtog aan in sy hofaansoek oor die kwessie.

Die R2K-veldtog se advokaat, Steven Budlender, het in die Johannesburgse hooggeregshof gesê dit is onverdedigbaar ten opsigte van logika, feite en gebeure om aan te voer ‘n plek is ‘n nasionale nasionale veiligheidpunte (NVP) en kan nie bekend gemaak word nie omdat dit staatsveiligheid in gedrang kan bring.

Hy het in sy reaksie op die minister van polisie, Nathi Nhleko, se argument dat hierdie NVP’s nie uitgeken kan word nie omdat dit staatsveiligheid op die spel plaas, aangevoer die redenasie hou nie wat water nie.

Dit maak geen verskil aan die land se veiligheid indien almal sou weet die Jan Smuts Lughawe (deesdae die OR Tambo Lughawe) is ‘n NVP nie. Almal weet reeds dit is van veiligheidsbelang en juis daarom ‘n maklike teiken is, meen Budlender.

Daar word al ‘n geruime tyd deur aktiviste en organisasies beswaar gemaak omdat die Wet op Nasionale Veiligheidspunte misbruik word as verskoning om nie inligting bekend te maak nie. Sodoende word feite toegesmeer soos onder meer die onregmatige spandering van belastinggeld op die Nkandla-woonkompleks. Die ware feite oor die landing van die Gupta-familie se privaatvliegtuig by die Waterkloof Lugmagbasis om ‘n troue by Sun City by te woon, is ook met behulp van hierdie Wet omseil.

Foto – Nathi Nhleko