Veiligheid nou meer kommerwekkend

Die veiligheid van landsburgers is in die weegskaal, en misdaad floreer in die land weens die korrupte polisie wat deel uitmaak van bende-bedrywighede en waarskynlik ook deel is van terroriste organisasies.

Dit is die mening van ’n onafhanklike ontleder oor algemene veiligheid, na aanleiding van die tien polisiebeamptes wat in die Wes-Kaap tereg staan op aanklag van korrupsie.

Hy sê dit word al duideliker dat die polisiediens buite beheer geraak het en dat die regering die gyselaar daarvan geword het.

Die toedrag van sake lei daartoe dat beleggers huiwerig is om na Suid-Afrika te kom, terwyl talle besig is om die land te verlaat.

Die smokkelhandel met dwelms, ongelisensieerde vuurwapens, en die grootskaalse misdaad op alle vlakke, is ’n skreeuende getuienis van wat in die land gebeur, het hy gesê.

Beloftes dat korrupsie uitgeroei gaan word, is ’n goedkoop grap, want die meeste korruptes sit in die stoele van diegene wat dit moet bestry, het hy verklaar.

Statistiek Suid-Afrika het onlangs bekend gemaak dat daar sowat 45 moorde elke dag in die land gepleeg word, waarvan slegs enkele gevalle op skuldigbevindings in ’n hof plaasvind.