Van lekker lag.

Soms wonder mens waar kom al die mooi uitdrukkings vandaan in die Afrikaanse taal wat heel dikwels soveel waarheid bevat.

Was daar ’n geleentheid dat iemand heerlik gelag het toe hy teen iets gewaarsku was, en later aan die huil gegaan toe die waarskuwings waarheid geword het?

Ek sal nie weet nie, maar wat ek wel weet, is dat ek self al ’n keer die ervaring beleef het.

Dit was toe oom Japie my vermaan het met wyse woorde: “Dogter, moenie sommer met enige jongman vriendelik wees nie, hulle het ’n manier om dit verkeerd te verstaan..”

En ek het heerlik gelag en gesê. “Oom hoef nie te kwel nie, ek is vriendelik met almal, maar hou hulle op hulle plek”.

Oom Japie het kop geskud, en daar was waarskuwings in sy blou oë wat my ietwat gehinder het…..

Toe, ’n paar aande later kry ek ’n oproep, en word uitgenooi na ’n danspartytjie, en hy sal my kom oplaai, so by half-sewe se kant….

Ek sal nou nie juis op die vriend verlief kan raak nie, want ek ken hom mos van skooldae af, maar een aand saam met hom op die dansbaan sal ook nie juis iets wees om te onthou, of te wil vergeet nie, het ek gemeen.

Maar daardie aand se gebeure het my byna ’n duur les gekos, want sy motiewe was alles behalwe ’n dansbaan en ander vriende.

Ek het tjankend die trappies op gehardloop toe hy my aflaai, want sulke ouens het ek nie in my lewe nodig nie.

Oom Japie se woorde het voor my opgedoem – die waarskuwende blik in sy skerp blou oë, en ek het geweet, van lekker lag kom lekker huil.

Voortaan sal ek seker maak, ek gaan nie sommer alleen met ’n ou uit nie, al ken ek hom van skooldae se kant af

Sarie Greyling,