Vakbond beheer radiostasie

Die Redakteur

Die Vryburger

Tydens Radio Pretoria se algemene jaarvergadering by die Voortrekkermonument het dit onbetwisbaar duidelik geword dat hy so afhanklik van die Solidariteit-beweging geword het, dat hy nie meer op eie bene sal kan staan as Solidariteit sy steun sou onttrek nie.

Tydens die Besturende Direkteur, Willie Spies, se voordrag het hierdie feit in meer as opsig baie duidelik geword. Hy het verwys na Radio Pretoria se gemeenskapsbetrokkenheid, en uit die vyf punte, het drie gedui op Solidariteit-betrokkenheid, deur Helpende Hand, die Afriforum musiekfees en die Akademia beurs. Die ander twee gemeenskapsaksies sluit in betrokkenheid by TLU SA, en die Aardklop-fees, waaroor daar in elk geval vrae hang rakende dié fees se volksgevoel en suiwer kultuur waardes.  Opmerklik is dat Radio Pretoria se gemeenskapsbetrokkenheid steeds minder is op ander volksaksies, en sy afwesigheid by bv. Majuba is die laaste jare opmerklik.

Spies het ook gewys op die finansiële bydraes wat organisasies tot Radio Pretoria lewer. Dit sluit in ‘n skenking van R3 miljoen deur Solidariteit vir die inruim van die nuwe gebou, ‘n subsidie wat Solidariteit aan die verkoopspan (van advertensies) gee, en Afriforum se R50 000 per maand vir die program Naweek Forum.

Finansieel lyk die grafieke nie sleg nie. As Solidariteit se skenking in ag geneem word, asook die feit dat advertensiebemarkers gesubsidieer word met ‘n salaris (teenoor die suiwer kommissiebasis waarop hulle in die verlede gewerk het), is daar vrae oor die volhoubaarheid daarvan. Daar is ook reeds ‘n miljoen rand se advertensies (vermoedelik Afriforum se advertensies) wat vooruit betaal is, wat die situasie kunsmatig beter laat lyk as wat dit in werklikheid is. Donasies deur luisteraars het met ongeveer 20% gedaal, en die Woord en Klank winkel  se inkomste het met ongeveer 55% gedaal. Daarteenoor is daar wel ‘n styging in uitgawes van ‘n kwart miljoen rand vir die afgelope jaar.

Die bedryfslaste het met ongeveer R2 miljoen gestyg terwyl die reserwes dieselfde gebly het.

Dit is duidelik dat die luisteraars van die gemeenskap steeds minder bydra tot Radio Pretoria sedert sy oorname en nuwe rigting, en dat Solidariteit daardeur sy bydrae nie sal kan staak nie. Dit maak Radio Pretoria in feite die slaaf van Solidariteit. Dit blyk duidelik in die aanslag van Radio Pretoria wat noemenswaardig na links geskuif het sedert die nuwe beheerders en finansiers oorgeneem het.

Mnre Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging, en Chris Bester is as direkteure herkies.

Ek hoop u is objektief genoeg om my brief in u gewaardeerde koerant te plaas.

Hendrik Draadloos