Uitvinding kan derduisende lewens red

 

‘n Jong student van Delft se innoverende denke beloof om in die toekoms talle mense in bedreigde lewensomstandighede te red.

Die 23-jarige Alec Momont, verbonde aan die Universiteit vir Tegnologie in Delft het ‘n onbemande selfnavigerende mini vliegtuigie (“drone”)  ontwerp wat baie vinnig ‘n defibrillator by ‘n noodgeval kan aflewer.

‘n Defibrillator is ‘n apparaat wat gebruik word om fibrillasie stop te sit deur die toediening van ‘n elektriese skok.

‘n Netwerk van hierdie tipe dreunkopters kan die kanse op oorlewing tydens ‘n hartstilstand van 8% tot 80% laat toeneem.  "Sowat 800,000 mense kry elke jaar ‘n hartstilstand in die Europese Unie en slegs 8% oorleef dit," het Momont verduidelik.

Momont het sy prototipe vir ‘n ambulans dreunkopter as ‘n finale projek vir sy graadkursus in die Fakulteit vir Ontwerp in Industriële Ingenieurswese ontwerp. Die kopter is ook toegerus dat dit via ‘n lewendige video en audioverbinding direkte terugvoer aan die nooddienste verskaf sodat instruksies aan die mense op die toneel gegee kan word omtrent die behandeling van die pasiënt.

Boonop kan die kopter die ligging kry waar die pasiënt is via die inbeller se mobiele foonsein en kry sy pad daarheen deur middel van ‘n GPS. Die kopter kan teen ‘n spoed van sowat 100 km per uur vlieg, weeg 4 kg en kan nog ‘n verdere 4 kg dra.

Daar lê egter nog ‘n paar jaar se werk voor om Momont se droom te bewaarheid om bestaande mediese nooddienste se infrastruktuur met hierdie kopters uit te brei. Onbeperkte moontlikhede wink egter in die geval van ‘n verdrinking, trauma en asemhalingsprobleme en vele ander mediese noodgevalle waar hierdie kopters lewens kan red.

Die goeie nuus is dat ‘n hele paar partye in die mediese sektor reeds daadwerklik belangstel in die projek.