Tygerberg hospitaal op die voorpunt

Die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad beskik nou oor die toerusting en kennis om ’n koronêre angiografie deur ’n pasiënt se pols te doen waar dit voorheen deur die pasiënt se lies gedoen moes word.

Tygerberg is die eerste hospitaal in Afrika wat met die nuwe tegnologie spog, en het aansienlike voordele vir die pasiënt, sowel as vir die geneeskundiges.

Die nuwe prosedure is nie net veiliger vir die pasiënt nie, maar ook veel meer gemaklik en word deur die kardiologie-eenheid van die Universiteit Stellenbosch en die hospitaal uitgevoer onder die vaandel van SunHeart.

SunHeart is ’n nie-winsgewende stigting wat hart-gesondheid toeganklik vir almal wil maak.

Suid-Afrika is bekend daarvoor dat hartkwale ’n algemene toestand is wat by mense voorkom, en jaarliks moet sowat 50,000 mense gevorderde hartsorg ontvang terwyl ’n groot aantal pasiënte nie toegang daartoe het nie.

’n Koronêre angiografie is ’n uiters belangrike ondersoek wat veral vir mense met aterosklerose van die hartare, wat die are vernou, en bloedvloei na die hart bemoeilik.

Hartkrampe en hartaanvalle kom dikwels voor by sulke pasiënte.

Die nuwe metode het ook die voordeel dat bloeding verminder, word onder plaaslike verdowing gedoen, en pasiënte kan gewoonlik nog dieselfde dag uit die hospitaal ontslaan word.

Die mediese wetenskap het die stent of ’n klein ballon ontwikkel om vernouings van are teen te staan en die are te rek sodat die bloedvloeiing kan verbeter.