Tweede geval van Kongokoors

Die tweede Kongokoors-geval in net ‘n week is bevestig nadat ’n bejaarde Vrystaatse boer vroeër vandeesweek in ‘n privaathospitaal opgeneem is.

Mnr. Piet Swart (70 jaar) is in die intensiewesorg-eenheid van die Mediclinic in Bloemfontein, en sy toestand word as uiters kritiek beskryf. Hy is aan lewensondersteunende masjiene gekoppel en word in volle afsondering behandel. Slegs die personeel wat hom behandel, word by hom toegelaat.

‘n Vooraanstaande boer, mnr. Parie Bothma (48 jaar), van Sutherland in die Noord-Kaap, is verlede week aan die siekte oorlede.

Die Nasionale Instituut vir Aanmeldbare Siektes het bevestig dat hy Kongokoors gehad het. Volgens die Nasionale Gesondheids-laboratorium word die siekte deur ’n bontpootbosluis se byt veroorsaak. Die bosluis kom in die Karoo, Wes-Vrystaat, Noord-Kaap en Wes-Transvaal voor.