Taalaktivis veg teen regime se beleid

Die taalaktivis, Cerneels Lourens, gaan voort met sy stryd teen die regering oor die toepassing van die taalbeleid wat volgens die grondwet bestuur moet word om al 11 tale gelyke behandeling te gee.

Regter Bennie Griesel het in sy uitspraak beslis dat Lourens se eis uiters belangrike vrae van nasionale belang na vore bring wat van grondwetlike aard is.

Lourens, ’n bekende taalaktivis en prokureur van Brits, het die aansoek by die gelykheidshof in Kaapstad ingedien teen die speaker van die Nasionale Vergadering, asook teen die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, die minister van kuns en kultuur en die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat).

Hy het in sy aansoek die hof gevra om die regering te dwing sodat hulle al 11 amptelike tale sal erken ingevolge bepalings van die grondwet. Hy het aangevoer die hof moet die parlement dwing om alle dokumente wat opgestel word, in al elf tale vry te stel.

Hy het die hof versoek om ook te beslis dat alle bestaande wetgewing in al 11 tale gepubliseer moet word aangesien dit die reg van elke taalgroep is om die wet in hul eie taal te ontvang.

Hy het daarop gewys dat die bestaande stelsel Engels bo al die ander tale bevoordeel.

Regter Griesel het vroeër bevind dat daar geen grondwetlike of statutêre plig op enige van die respondente is om nasionale wetgewing in al 11 amptelike tale te publiseer nie.

Foto – Cerneels LourensGoeie nuus oor water