Suutjies getrap oor transformasie.

Transformasie het gefaal. Hoewel dit nie prontuit erken word nie en geklee word in ander woorde om apartheid te beskuldig, is dit in werklikheid wat die waarnemende voorsitter van die Staatsdienskommissie (SDK), adv. Richard Sizani, bedoel het toe hy die moontlikheid genoem het, dat dit nodig is om die transformasiebeleid in die staatsdiens te hersien. 

Dr. Sean Phillips, ‘n senior staatsamptenaar in die presidensie en direkteur-generaal van monitering en evaluering het tydens die SDK se kongres in Verwoerdburg sy stem daarby gevoeg en gesê transformasie was nodig om die ongemaklikhede van die apartheidsera op te los. 

Daar word ook gepraat oor watter beleidsveranderings saam met die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) aangepak kan word om Suid-Afrika ‘n bekwame ontwikkelingstaat te maak. 

Kundiges wys daarop dat Suid-Afrika na 20 jaar van transformasie op die rand van ineenstorting is; dat dit van ‘n moderne klein eerste wêreldse Switserland van Afrika getransformeer is na ‘n piesangrepubliek en nou hoop diegene wat aan die spits van die vernietiging gestaan het, om die land uit die as, soos die mitologiese Feniks – darem na ontwikkelingstaat te laat vorder. 

Transformasiepraktyke, soos reg­stellende aksie in die staatsdiens, was nodig om die “ongemaklike werklikhede” van die apartheidsera te pak, het die kongresgangers gehoor.

Die beskuldigings teen die apartheidsregering het uit Phillips se mond gerol toe hy gesê het dat die ANC ‘n korrupte administrasie geërf het – wat geheime fondse vir twyfelagtige doeleindes bedryf het; waarop geantwoord kan word dat die fondse was gebruik om terrorisme te beveg, iets wat wêreldwyd geregverdig is. 

Hy het ook die subsidies aan boere genoem, sonder om te vertel dat die beste landbougrond gedurende die apartheidsjare aan swartes en hulle tuislande gegee is. Maar wat hy heeltemaal vergeet het om te noem is watter mislukking Zebediela was nadat die ontwikklingsfondse alles deur die kaders en danksy transformasie opgevreet is.

‘n Woordvoerder van die regering het gesê dat daar op die verslag van die SDK gewag word.

Foto – Dr. Sean Phillips