Studente bereik opspraakwekkende prestasie

Terwyl sekere studente in Suid-Afrika oefen om te staak, het Switserse studente ‘n wêreldrekord opgestel in die versnelling van elektriese voertuie met ‘n renmotor wat hulle ontwerp en gebou het.

Die voertuig het van 0 tot 100 kilometer per uur versnel in slegs 1,785 sekondes, volgens die Switserse Federale Instituut vir Tegnologie in Zürich.

‘n Formule 1-motor kan van 0 tot 100m/h in sowat 1,7 sekondes versnel volgens die 2006-regulasies, maar doen dit gewoonlik in 2,5 sekondes.

Die studente van die Instituut en die Universiteit van Luzern het sodoende die vorige rekord van 2,134 sekondes wat deur studente van Delft se Universiteit vir Tegnologie opgestel is, geklop.

Die Instituut het heel trots verklaar: die studente het minder as ‘n jaar aan die voertuig gebou en “geen ander produksievoertuig in die wêreld het ‘n soortgelyke sterk versnelling bereik nie”.