Stedelinge is "mini-vlugvoos"

Navorsing toon dat kunsmatige lig na skemer onnatuurlik is, en kan nadelig vir die mens se gesondheid wees.

Inwoners van talle wêreldstede roem hulle op die helder verligte naglug van die stad waarin hulle woon, sonder om eens na te dink oor wat dit alles meebring. Een daarvan is gesondheidsprobleme, want daar is ‘n klomp fisiologiese veranderings wat lig tydens die nag vir die mens inhou.

Blootstelling aan kunsmatige lig na skemer, sorg dat die mens se dagtyd fisiologie inskop en die brein word wakkerder, die hartklop versnel,  temperatuur styg en die produksie van die hormoon, melatonien, word onderdruk. Melatonien is ‘n lig-sensitiewe hormoon en ‘vertel’ aan die brein dit is slapenstyd wanneer dit donker is.

Tog het die stadslewe, verwyder van ‘n natuurlike ligpatroon, nie soseer die mens se liggaam versteur nie, maar eerder gesorg dat daar later wakker gebly word. Elke dag wat die mens nie teen skemer bed toe gaan nie, ervaar hy wat ‘n neurowetenskaplike, Steven Lockley, van die Harvard Mediese Skool ‘n “mini-vlugvoosheid” noem.

Navorsing oor die uitwerking van ‘n veranderinge in die 24 uur lig/donker siklus, bekend as die sirkadiese horlosie, op skofwerkers toon dat hierdie omwenteling kanker in mense kan veroorsaak. Vroue wat nagskof werk, het byvoorbeeld ‘n hoër risiko om borskanker te ontwikkel as vroue wat nie in die nag werk nie.

 

Opm. Die berig is gegrond op oorsese navorsing en is nie bedoel as ‘n ‘troosprys’ wanneer Eskom nie elektrisiteit aan Suid-Afrika kan voorsien nie.