Staatsadvokate staar vervolging in die gesig

Minstens drie van die mees senior staatsadvokate van die Nasionale Vervolgingsgesag staar skorsing in die gesig nadat die Algemene Balieraad besluit het om ’n hofaansoek in te dien om hulle van die rol te skrap of te skors.

Die drie advokate van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) word aangekla nadat klagtes ontvang is van onetiese optrede.

Adv. Jeremy Muller SC, die Algemene Balieraad se voorsitter, het bevestig dat hul uitvoerende komitee dié besluit geneem het.

Die drie advokate van NVG waarteen daar nou besware is, is advv. Nomgcobo Jiba, Sibongile Mzinyathi en Lawrence Mrwebi.

Die Pretoriase Balieraad het klagtes ontvang, en dit verwys na die Algemene Balieraad, wat glo ’n komitee aangewys het om die bewerings na te gaan.

Na wat berig word, was dié drie advokate voorheen verkla weens hul optrede in die vervolging van lt.genl. Richard Mdluli, die geskorste hoof van misdaadintelligensie in die polisie. Al drie was glo betrokke by die terugtrek van die aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery teen Mdluli.

Intussen duur ’n ondersoek voort van die NVG oor ’n klag van meineed wat ingedien is teen die drie.