Staat kry min skoon oudits

Onreëlmatige spandering van belastinggeld deur nasionale en provinsiale staatsdepartemente het in die pas afgelope boekjaar meer as verdubbel.

Dit het die R62 miljard kerf verbygesteek in vergelyking met R27 miljard in die vorige finansiële jaar.

Die ouditeur-generaal (OG) se gekonsolideerde verslag vir 2013-2014 toon dat 75% nasionale en provinsiale staatsdepartemente asook openbare entiteite hulle doelbewus nie steur aan wetgewing omtrent die spandering van belastinggeld nie.

Van die grootste sondaars is provinsiale departemente van gesondheid, onderwys, paaie en openbare werke.

Provinsies soos Noord-Transvaal, Natal, Sentraal-Transvaal en die Oos-Kaap is die hoofoortreders deur die OG uitgesonder aangesien hulle meer as R10 miljard onreëlmatig spandeer het. Die departement van vervoer en sy ongewilde Sanral het meer as R3 miljard vermors.

Slegs 119 departmente en openbare entiteit (sowat 25%) het skoon oudits in die afgelope finansiële jaar gekry, terwyl 309 nasionale en provinsiale departemente die toets gedop het.