Spesialiste trap mediesefondse se wind uit

Mediese spesialiste vra blykbaar soms tot 300% meer as die bedrae wat mediese fondse toelaat.

Die bewering is vervat in ‘n voorlegging wat die Raad vir Gesondheidsorg Befondsers aan die Mededingingskommissie in sy ondersoek na die privaat mediese bedryf sal voorlê, aldus ‘n Afrikaanse Sondagblad.

Die Raad voer aan dat spesialiste se fooie, veral ortopediese sjirurge, hart en long sjirurge, narkotiseurs, onkoloë en patoloë soms 300% meer is.

Die voorlegging sluit hospitaal- en spesialiste se rekeninge in wat toon dat pasiënte per geleentheid selfs twee keer vir dieselfde prosedure betaal.

Daar word voorts deur die Raad  beweer dat die grootse drie hospitaalgroepe, Life, Medi-Clinic en Netcare die mark sodanig oorheers dat daar nie eintlik kompetisie in die sektor is nie. Een groep het glo ‘n mediese fonds met ‘n dubbelsyfer prysverhoging gedreig indien die fonds nie die bepaalde groep as sy voorkeur diensverskaffer sou aanwys nie.

Die ondersoek na die privaat mediese bedryf is sedert die begin van die jaar aan die gang en is waarskynlik gerig op groter regulering en prysbeheer in die sektor.