Sokker voer wapen-veldtog

Kort na die ‘staatsbegrafnis’ van die sokkerkaptein, Senzo Meyiwa, is aangekondig dat die Suid-Afrikaanse sokkervereniging, Safa, ‘n veldtog gaan loods vir wetgewing  teen “onwettige wapens”.

Politieke ontleders maak dit egter af as skokreaksie van die sokkerspelers, aangesien daar wetgewing bestaan teen die onwettige besit van vuurwapens.

Safa het ‘n advokaat, Norman Arendse, aangestel om die veldtog te lei om wetgewing ingestel te kry teen ongelisensieerde, gesteelde en onwettige wapens, het die president van die vereniging, Danny Jordaan, aan ‘n vertrek volgepak van mediaverteenwoordigers vertel.

‘n Optog na die parlement word onder meer beplan, waar die ANC-regsman, George Bizos, ook teenwoordig sal wees.

Benewens die ‘staatsbegrafnis’ wat deur die provinsiale regering van Natal vir Meyiwa gehou is, is ‘n spesiale taakspan deur die SAPD se nasionale kommissaris aangestel om na sy moordenaars te soek.

Nagenoeg 13 mense is al aangekeer en ondervra, hoewel dit wil voorkom asof daar nog nie ‘n definitiewe deurbraak gemaak is nie. Hy is doodgeskiet tydens ‘n vermeende rooftog aan huis van sy minares, Kelly Khumalo, in Vosloorus by Kemptonpark.

Foto – Senzo Meyiwa