Sluiting van staalaanleg dreig

Die hele ekonomiese infrastruktuur van Vanderbijlpark is in gedrang indien gerugte waar sou wees dat ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) beoog om die betrokke aanleg te sluit.

Meer as 8,000 werkers kan hulle poste verloor. Diensverskaffers  en plaaslike besighede sal ook negatief geraak word.

Die maatskappy gaan die afgelope tyd gebuk onder ‘n paar terugslae, waarvan goedkoop Chinese invoere en ‘n daling in die aanvraag vir staal die swaarste weeg.

Die ANC-bewind oefen druk op Amsa uit om staalpryse te sny en het ‘n vennootskap met ‘n konsortium onder leiding van ‘n klomp Chinese gesluit om ‘n nuwe staalaanleg deur die staatsbefondser, die Nywerheidsontwikkelingskorporasie, te laat bou.

Nagenoeg 5 miljoen ton staal sal per jaar by die aanleg geproduseer word.

Uitspraak is ondertussen in die Bloemfonteinse Appèlhof voorbehou in ‘n gemeenskapsorganisasie se saak om Amsa te dwing om hulle impakstudies oor die Vanderbijlpark-aanleg se invloed op die omgewing vry te stel.