Skotse nasionaliste maak ‘n terugkeer

Die Skotse Nasionale Party (SNP) beleef ‘n ongekende oplewing in steun en dit lyk asof die party die Skotse Arbeidersparty in volgende jaar se algemene verkiesing (SAP) uit die kussings kan lig in die Verenigde Koninkryk (VK) se parlement. 

Dit sal die Britse politieke toneel heeltemal transformeer.

Hierdie ongelooflike tendens getuig daarvan dat die SNP as’t ware ‘n terugkeer gemaak het ondanks die feit dat die party die referendum vir onafhanklikheid op 18 September vanjaar verloor het.

Die nuwe leier van die SNP, Nicola Sturgeon, het kort gelede tereg opgemerk dat die tektoniese plate in die Skotse politiek waarlik besig is om te skuif.

‘n Analise van die referendum en onlangse meningsopname toon dat die SNP die oorhand kan kry ten opsigte van die Skotse setels in die VK-parlement tydens die algemene verkiesing in Mei aanstaande jaar in Brittanje.

Die SNP lyk asof dit op die oorwinningspad is indien dieselfde tendense as in die referendum tydens die algemene verkiesing herhaal word. ‘n Analise toon dat tradisionele ondersteuners van die  SAP ten gunste van onafhanklikheid gestem het in die referendum. Die verwagting is dat die referendum ‘n keerpunt teweeg  gebring het in sommige van die Arbeidersparty se ondersteuners se neiging om vir die SNP in ‘n verkiesing vir die Skotse Parlement te stem, maar om vir Arbeidersparty te stem in ‘n verkiesing vir die VK-parlement.

Twee meningsopnames deur onderskeidelik Ispos Mori (52%) en YouGov (43%) bevestig die feit dat die SNP buitengewoon goed sal presteer in ‘n algemene verkiesing in vergelyking met die Arbeidersparty (23% -Ipsos Mori en 27% – YouGov). Die hoë Ipsos Mori-uitslag van 52% vir die SNP is ‘n eerste in die geskiedenis van die party.

Hierdie opnames het plaasgevind terwyl die ontnugterde leier van die Arbeidersparty, Johann Lamont, bedank het omdat hy meen die Britse Arbeidersparty hanteer sy Skotse partygenote bloot as ‘n takkantoor. Die bitter interne leierskonflik in die SAP voorspel op hierdie stadium niks goeds vir die party nie wat volgens analiste besig is om ineen te stort.

‘n Analise deur die Guardian toon die SAP kan 20 setels in die VK-parlement verloor nadat die SNP se lidmaatskap sedert die referendum verdriedubbel het. Dit stel die Skotse nasionaliste in staat om die Arbeiders in sy hartland regoor die westelike en sentrale deel van Skotland te klop en sodoende die politieke landskap te verander.

Die hele Britse politieke landskap gaan waarskynlik na Mei anders lyk, wat ‘n beduidende invloed sal hê op die plaaslike front in Skotland, en natuurlik ook die Britse lidmaatskap van die Europese Unie sal raak.

Foto – Nicola Sturgeon