Skooldogter wen internasionale fotoprys

‘n Foto van ‘n “gapende witleeu” het ‘n jong Noord-Kaapse skooldogter ‘n internasionale fotografie-prys besorg.

Chanté Robinson, ‘n Graad 8-leerling (vroeër standerd 6) aan die Hoërskool Noord-Kaap in Kimberley het haar leeufoto vir die Global Travel and Tourism Partnership South Africa (GTTPSA) se internasionale fotografie-kompetisie ingeskryf en met die louere weggestap.

Sy het as deel van haar eerste prys kontant gewen en die foto sal ook in ‘n internasionale tydskrif gepubliseer word.

Vir iemand wat eers onlangs begin het om haar op fotografie toe te spits, is dit natuurlik ‘n wonderlike onderskeiding en aansporing. Nadat sy die afgelope jaar ‘n “ordentlike kamera” gekry het, het die fotografie gogga haar glo behoorlik gebyt en sy het by die skool se fotografieklub aangesluit.

Haar voorliefde vir natuurfoto’s het verder aanleiding daartoe gegee dat sy die wenfoto op haar gesin se plaas, Apha, buite Kimberley geneem het.

Alhoewel sy deesdae haar kamera oral saamdra, beskou sy op hierdie stadium fotografie net as ‘n tydverdryf en nie noodwendig as ‘n toekomstige loopbaan nie.

Nog ‘n leerling van die Hoërskool Noord-Kaap, Bianca Faber, is saam met Chanté en ’n leerling van Noord-Transvaal die nasionale wenners van dieselfde kompetisie.