Skok oor boer se Kongokoors-dood

’n Noord-Kaapse boervrou en haar kinders word gemonitor nadat die 48-jarige Parie Bothma van die Sutherland-omgewing aan Kongokoors dood is.

Die gemeenskap en Noord-Kaapse landboukringe is geskok oor die geliefde en alom bekende boer se skielike en onverwagse dood slegs enkele dae nadat hy begin sleg voel het.

Dit is nie duidelik of hy op sy plaas Bo-treintjiesplaas of elders deur ’n bontpootbosluis gebyt is nie.

Sy vrou Madeleine het hom na hospitale in Kaapstad en Somerset-Wes geneem, maar hy is onderweg na die Tygerberg-hospitaal oorlede.

Sy en hulle drie kinders, Carina (20), Maliska (16) en Jannes (13) se temperature word elke dag as voorsorgmaatreël op die plaas geneem en na die Departement van Gesondheid gestuur. Hulle is egter nie onder kwarantyn nie.

Bothma was vyf jaar lank die voorsitter van die Suid-Roggeveld-landbouvereniging en die afgelope drie jaar het die vereniging die toekenning ontvang as beste landbouvereniging.in die provinsie.

Die Nasionale Instituut vir Aanmeldbare Siektes het op sy webwerf bevestig Bothma is aan Kongokoors oorlede. Vyf tot tien gevalle van Kongokoors word jaarliks in Suid-Afrika aangemeld. Die sterftesyfer is 20% tot 30%.

Volgens die Nasionale Gesondheidslaboratorium word die siekte deur ’n bontpootbosluis se byt veroorsaak. Die bosluis kom in die Karoo, Wes-Vrystaat, Noord-Kaap en Wes-Transvaal voor.