Sirkus hervat in parlement

Die ANC se diktatoriale optrede het daarvoor gesorg dat pandemonium weer tydens ‘n parlementsitting uitgebreek het.

Die meerderheidsparty se eensydige veranderings aan die ordelys vir ‘n sitting het vroegmiddag gelei tot verset uit die opposisie se geledere.

‘n Poging om ‘n verslag oor die Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV) op die tafel te kry, was eintlik die ANC se mikpunt, en ook die aanvanklike twisappel. Die verslag handel oor die EVV se amokmakery in die parlement en hulle strawwe daarvoor.

Ter wille van die ooreenkoms wat die adjunk-president, Cyril Ramaphosa, en leiers van die opposisiepartye bereik het oor die herstel van die orde in die parlement, is besluit om die gewraakte verslag te laat oorstaan.

Die verslag het egter weer opgeduik en gesorg dat vreemde bedmaats hulle bymekaar skaar te midde van beledigings wat rondgeslinger is. Die gort was gaar toe die ANC-parlementslid, Nocawe Mafu, die agbare hoofsweep van die Vryheidsfront Plus, dr. Corné Mulder, toegesnou het: “Orania.” Hierteen het die EVV beswaar aangeteken en dit het ‘n uitjouery van die ANC-parlementlede ontlok.

Verrigtinge is toe verdaag sodat die hoofswepe kon koukus. Intussen het dit vrolik in die raadsaal gegaan met EVV- en DA-parlementslede wat dans terwyl hulle op die maat van “Awuleth’ umshini wami”  (“bring my masjiengeweer”) gesing het “bring my geld”. Van die opposisielede het later losgetrek met “Jan Pierewiet” en “Jingle Bells”.

Die sitting is teen 20:45 hervat.

Die parlement sou vandeesweek in reses gaan, maar weens die wanorde in die nasionale vergadering se sittings die afgelope tyd sal dit nie kan plaasvind nie.

’n Politieke ontleder het die voorval beskryf as ’n tipiese “lokasie geveg van gillende vroue”.