Sinnelose feeste knel ekonomie

Die gedurige verkwisting met onsinnige feesvieringe gaan die land se ekonomie uiteindelik knak, terwyl die geld eerder aangewend moet word om kragsentrales in stand te hou.

Dit is die mening van ’n onafhanklike ekonoom nadat dit bekend geword het dat die Vrystaatse regering weer ’n fees gefinansier het wat sowat R46 miljoen uit die belastingbetalers se sak jaag.

Die uitgawe is aangekondig deur die woordvoerder van die Vrystaatse Departement van Sport, Kuns en Kultuur.

Die verhoging is ’n vermeerdering van R43 miljoen teenoor die vorige boekjaar se fees.

Die Departement se woordvoerder, ene Tankiso Zola, het weke na afloop van die omstrede fees, gesê die begroting vir die fees is nog nie gedoen nie.

Minderheidsgroepe weier om die fees by te woon en sê dit is ’n fees wat geen verbintenis toon met hulle eie kultuurwaardes nie.

Die fees is slegs een van die talle gevalle van ernstige wanbesteding wat in die Vrystaat plaasvind.

Estina, wat as die grootste skandaal in die Vrystaat beskou word deur politieke ontleders, is ’n landbou-projek wat glo met die Guptas verbind is, en wat die Departement van Landbou begin het, wat belastingbetalers bykans R600 miljoen gekos het.