See-ottertjie is ‘n ster

‘n Klein see-ottertjie het mense regoor die wêreld se verbeelding aangegryp omdat die skatlike baba ‘n weeskind is.

‘n Video (“Welcome Pup 681” op YouTube) van die see-ottertjie wys hoe sy in haar nuwe tuiste “rugslag” swem met haar gewebde agterpootjies.

Die ottertjie, tans net bekend as “Pup 681”, word in die video deur een van haar versorgers by Shedd Akwarium in Chicago in die water gesit. Haar baba-pels maak haar egter so veerkragtig dat sy bo-op die water dryf en nie kan induik nie, maar dan roei sy met haar agterpootjies terwyl sy sulke gilletjies van otter-plesier gee. Die ottertjie se versorger tel haar dan uit die water en droog haar met ‘n spierwit handdoek af.

Tans word sy nog 24-uur lank versorg nadat sy ‘n paar weke gelede ontdek is toe ‘n stapper haar een aand by Coastway Beach, noord van Santa Cruz hoor huil het en die owerhede gekontak het. Sy was maar net ‘n week oud toe sy die volgende oggend deur ‘n reddingspan van die Kaliforniese Departement van Vis en Wildlewe gered en na die Monterey Bay-Akwarium geneem is.

Na vier weke se intensiewe versorging het sy mooi aangesterk, maar haar versorgers het besef dat sy nie in die natuur vir haarself sal kan sorg nie en sy is na Shedd Akwarium oorgeplaas. Alhoewel hulle al 25 jaar se ondervinding het om brose see-otters te versorg, sal Klein 681 se jong ouderdom en klein postuurtjie hulle in staat stel om die ontwikkelingsfase van hierdie bedreigde spesie waar te neem.

Intussen sal sy geleer word om na haarself om te sien, te swem, kos in die hande te kry, haar pels te versorg en haar soos ‘n ware see-otter te gedra.