SAOG wankel in Lesotho

Die regering van Lesotho eis dat twee senior Suid-Afrikaanse polisie-aanvoerders onmiddellik verwyder moet word omdat hulle die vredespogings in die land sou bedreig.

‘n Vertroulike brief is aan die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en sy hoofonderhandelaar, Cyril Ramaphosa, gestuur om dié regering se bedenkinge uit te spreek oor ‘n luitenant-kolonel en ‘n brigadier.

‘n Regeringsekretaris, Moahloli Mphaka, het aan die internasionale nuusagentskap, AFP, gesê vinnige optrede teen die amptenare word verwag.

Hy het geweier om meer besonderhede te gee, maar aldus ‘n ander amptenaar saboteer hulle die veiligheid van die eerste minister, Tom Thabane en ander topamptenare.

Hulle sweer na bewering saam met Thabane se konkurrente om die SAOG-missie te kelder.

Die SAOG het 100 polisielede na Lesotho gestuur as deel van ‘n vredesooreenkoms wat deur Ramaphosa beding is. ‘n Mislukte staatsgreep het in Augustus plaasgevind in ‘n poging om die koalisie-regering van Thabane omver te werp.

Die 21 dae spertyd wat gegee is aan die afvallige weermag-generaal, Tlali Kamoli, om sy magte ten volle aan sy adjunk te oorhandig en om Lesotho onbepaald te verlaat, breek Vrydag 21 November aan.

Dit is nog nie duidelik na watter land Kamoli sal uitwyk nie aangesien verskeie Afrika-state hom verblyf geweier het. Kamoli word daarvan beskuldig dat die staatsgreep onder sy leiding uitgevoer is.

Foto – Tlali Kamoli