SA erger as net "skop, skiet en …"

Die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, het gesorg dat sy ‘n Afrikaanse frase gebruik om te sê die dae van “skop, skiet en…..” (vir die polisie) is verby.

“Ons is in ’n nuwe era waar ons moet kyk na die verbetering van ons vaardighede”, aldus Phiyega. Sy het op ‘n navorsingseminaar in Verwoerdburg die Afrikaanse beskrywing gebruik wat oorspronklik gebruik is om te verwys na veral Wilde Weste-rolprente, maar ook geweld in rolprente en televisie oor die algemeen.

Die seminaar handel oor die militarisering, al dan nie van die polisie en akademici van verskeie universiteite sal tydens die seminaar navorsingstukke daaroor voorlê.

Die seminaar is waarskynlik ‘n voortvloeisel van ‘n soeke na ‘oplossings’ vir die skerp styging in gewelddadige misdaad in die land, aldus die SAPD se jongste misdaadstatistiek. Die wandade en swak dissipline van die polisie wat bykans daagliks die nuusblaaie haal, noop ook lankal ernstige aandag.

Foto – Riah Phiyega