S.A. se handelstekort verminder

Suid-Afrika se handelsbalans vir September het aansienlik verbeter, alhoewel steeds negatief.

Teenoor die handelstekort vir Augustus van R16.75-miljard was die tekort vir September slegs R2.91-miljard. Die opgelope tekort vir die jaar staan steeds op ‘n ongesonde R73.74-miljard teenoor die vergelykende tydperk verlede jaar se R63.7-miljard. Dit het dus met 16% toegeneem.

Invoere vir September het R93.7-miljard beloop en slegs 0.2% hoër as Augustus. Uitvoere het met 18.2% teenoor Augustus verhoog tot R90.8-miljard.

Die verhoogde uitvoere was hoofsaaklik te danke aan ‘n toename in mynbouprodukte, chemikalië, motorvoertuie en vervoertoerusting. Die motorbedryf en mynboubedryf het vanjaar erg onder stakings deurgeloop en die meer normale omstandighede wat tans ondervind word toon duidelik aan dat die groot handelstekort aansienlik beter daaraan toe kon gewees het.