Rustenburg verdwyn in afvoerpype

Een van die redes waarom bepaalde inwoners in Rustenburg sedert verlede maand sonder water is, kan toegewyt word daaraan dat die dorp al ses jaar sonder ‘n siviele ingenieur is.

Die probleme wat jaar na jaar ondervind word, is egter nie omdat daar nie genoeg water is nie. Die swak toestand waarin die ou infrastruktuur is, lei daartoe dat pype bars.

Die gemiddelde verlies aan water is nagenoeg 21%.

Inwoners van Rustenburg het laat verlede maand ‘n protesoptog gehou om te eis dat senior munisipale amptenare afgedank word omdat beloftes dat die infrastruktuur opgegradeer sal word, nie nagekom word nie.

Hulle eise aan die ANC beheerde munisipaliteit is ‘n uitvloeisel van die dorp se jarelange waterprobleme.

‘n Inwoner van die dorp, Cheryl Phillips, het die optog gereël waartydens die inwoners ‘n petisie aan die munisipaliteit oorhandig het. Daadwerklike aksie, behoorlike kommunikasie en dissiplinêre optrede teen swak bestuur van water, is in die petisie geëis.