RSA kon Zimbabwe red

Die grootste deel van Zimbabwe se probleme kon uit die weg geruim word as dit nie was vir die onwilligheid van die Suid-Afrikaanse regering nie.

Suid-Afrika kon die onreg wat in sy buurland gepleeg is deur aanhangers van Robbert Mugabe, verhoed het as hulle nie die vergrype tydens die algemene verkiesing onder die mat ingevee het nie.

Dit is die mening van Morgan Tsvangirai, leier van die opposisieparty, die Beweging vir Demokratiese Verandering, na aanleding van navrae oor die Khampepe-verslag, waaroor hy teen die Suid-Afrikaanse regering uitgevaar het.

“Dit kon veel anders verloop het in 2002 as Suid-Afrika die eerbare weg gevolg het, en die geknoei bekend gemaak het, maar instede daarvan verklaar hulle die geknoei as vry en regverdig,” het hy gesê.

Tsvangirai het tydens ’n mediakonferensie gesê dit is ’n skande hoe Mugabe met moord weggekom het tydens die vekiesing, en dit is vandag die norm in die land van hoe ’n verkiesing gehou moet word.

Die verslag wat verlede week bekend gemaak is, na ’n hofstryd van 12 jaar, het verskeie opspraakwekkende aspekte belig, waarvan die belangrikste waarskynlik is dat daar ’n grootskaalse geknoei plaasgevind het tydens die verkiesing.

Opposisielede is voor die verkiesing, onder valse voorwendsels, in hegtenis geneem om sodoende die kiesers te mislei.

Die staatsmedia is ingespan om eensydige, en valse gerugte te publiseer, wat die opposisiepartye gekniehalter het.

Suid-Afrika was van alles bewus, en het nieteenstaande die harde feite, die verkiesing as vry en regverdig verklaar, wat beteken dat hulle die onreg gesteun het, sê Tsvangirai.

Hy sê die Suider Afrikaanse Ontwikkelingsmaatskappy (SAOG) het ook skuld aan die onreg wat plaasgevind het, want hulle het self ook die verkiesing as vry en regverdig verklaar, en dit het die organisasie se geloofwaardigheid ernstig geknou.

Die geknoei was sodanig dat Mugabe selfs voorsitter geword het van die SAOG.

Tsvangirai sê ook dat terwyl die wêreld die betrokke verkiesing se uitslae veroordeel het, was dit Kgalema Motlanthe, hoof van die Suid-Afrikaanse waarnemerspan, wat na vore gekom het en die onregverdige geknoei as vry en regverdig verklaar het.

Hy beweer ook dat verlede jaar se verkiesing geensins verskil het in die geknoei van 2002 nie, en daarmee is die laaste greintjie demokrasie van die land vernietig.

Foto – Morgan Tsvangirai