Renegaat steeds aktief in Lesotho

Die weermagaanvoerder wat daarvan verdink word dat hy vroeër vanjaar ‘n staatsgreep in Lesotho wou deurvoer, gaan glo steeds voort met sy destabiliserende optrede.

‘n Topamptenaar van die weermag het in ‘n brief aan die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) gevra dat luitenant-generaal Tlali Kamoli  “verwyder” moet word omdat hy verskeie vergadering met onderdane gehou het, ondanks sy onderneming om nie meer sy invloed te laat geld nie.

Intussen is bekend gemaak dat sowat 140 Suid-Afrikaanse polisielede in Lesotho ontplooi gaan word as deel van die vredesooreenkoms wat adjunk president, Cyril Ramaphosa, vroeër namens die SAOG in die bergkoninkryk beding het. Hulle sal vir drie maande in die land aanbly en die tydperk sal verleng word indien dit nodig blyk te wees.

Ramaphosa het vandeesweek sy sewende besoek sedert Junie aan Lesotho afgelê in sy hoedanigheid as vredemaker tussen die strydende politieke partye in die land.

Kragtens die vredesooreenkoms wat gesluit is, sal ‘n vervroegde verkiesing in Februarie aanstaande jaar in Lesotho gehou word.

Foto – luitenant-generaal Tlali Kamoli