Rekord renosters gestroop

‘n Rekordgetal renosters is die afgelope jaar in Suid-Afrika doodgemaak.

Van die 1,020 renosters wat doodgemaak is, was 672 in die Krugerwildtuin die teiken van renosterstropers.

Verlede jaar is 1 004 renosters vir hulle horings doodgemaak. Die horings vorm deel van ‘n multi-miljard bedryf wat hoofsaaklik verhandel word in Oosterse lande, waarvan Viëtnam een van die hoofbestemmings is.

Verskerpte optrede en swaar strawwe het tot dusver duidelik nie die gewenste uitwerking as afskrikmiddels opgelewer nie aangesien die stropery steeds onverpoosd voortgaan. Pogings om die Wildtuin se grens met Mosambiek beter te patrolleer en ander beheermaatreëls kon boonop nie suksesvol deurgevoer word nie. Die ANC-bewind het enkele maande gelede planne bekend gemaak om van die renosters uit die Krugerwildtuin te verskuif om sodoende te voorkom dat hulle uitgeroei word.

Nagenoeg 344 verdagtes is sedert die begin van die jaar aangekeer, aldus ‘n woordvoerder van SANParke. Verskeie polisielede en werknemers van SANParke was ongelukkig ook onder diegene wat vir renosterstropery in hegtenis geneem is. In Julie vanjaar is ‘n renosterstroper 77 jaar tronkstraf opgelê.