Regter kap Pretoria-metroraad

Die Pretoria-metroraad is goed geroskam oor hul “traak-my-nie-agtige houding” oor ’n dringende hofaansoek wat deur twee vroue studente van die metroraad by die hof ingedien is.

Die twee vroue het ’n dringende hofaansoek gebring weens die onregmatige optrede van amptenare wat hulle hare gesny het “omdat dit te lank was”.

Regter J.S. Strydom se bevinding in die hooggeregshof in Pretoria was dat die metroraad nalatig was om mense se hare te sny sonder hulle goedkeuring.

Strydom het gelas dat die metroraad ook die regskoste sal betaal wat deur die vakbond aangegaan is om die twee vroue se regte te beskerm.

Die twee vroue is voorheen uit die kursus geskop wat vir leerling beamptes aangebied is, omdat hulle hare te lank was.

Die vroue het ook ’n klag van aanranding gelê en die skuldige het skuld daarop erken.