Publiek word mislei oor paaie

Die aksiegroep teen stedelike tol, Outa, meen eenvoudige somme toon ‘n ekstra bydrae van R3,65 per liter tot die brandstofheffing vir padinstandhouding is ‘n buitensporige oordrywing en ‘n wanvoorstelling.

Outa het in sy reaksie op die Minister van Vervoer, Dipuo Peters, se voorlegging aan die paneel wat ondersoek oor die e-tolpaaie in Sentraal-Transvaal instel, gesê die minister se kantoor word mislei deur wie ookal haar adviseur omtrent hierdie syfers is.  Leuens en halwe waarhede word oor die saak versprei deur die opgeblaaste syfers aan die publiek voor te hou, sê Outa.

Tans word daar jaarliks nagenoeg 22,9 miljard liter brandstof  verkoop.

Indien ‘n R3,65 heffing per liter brandstof hierby gevoeg word dan word daar jaarliks ‘n ekstra R84 miljard vir belasting gegeneer, sê John Clarke en Wayne Duvenage van Outa. Die opgraderingskoste van die snelweë in Sentraal-Transvaal bedra tans nagenoeg R18 miljard. Volgens Outa se berekeninge is eintlik slegs tien sent per liter nodig om jaarliks ‘n ekstra R2,3 miljard in die hande te kry.  Die sal die kapitaalkoste van die R18 miljard-opgraderings asook rente van 12% oor ‘n tydperk van 20 jaar dek.

Waarskynlik het die minister en die padagentskap, Sanral, die hele land se padverbeterings en agterstand met projekte in gedagte wanneer  ‘n bedrag van R3,65 genoem word, meen Outa.

’n Woordvoerder van Oranje Sake Instituut het aan Die Vryburger gesê dat berekenings wat deur professionele instansies gedoen is, daarop dui dat ’n heffing van R0-20 per liter brandstof voldoende sal wees om die e-tol stelsel te vervang.