Pretoria sny krag af oor skuld

Die Pretoriase metroraad gaan voort om die elektrisiteitstoevoer af te sny van die entiteite wat vir langer as 30 dae agterstallig is met hulle betalings.

Die sluit privaatwonings in, waarvan die agterstallige skuld vir krag altesaam bykans R3 miljard bedra. Besighede se totale skuld is R1,36 miljard, terwyl Brits munisipaliteit die metroraad R48,6 miljoen skuld. Provinsiale departemente skuld meer as R339 miljoen.

 

Die kragtoevoer na 38 skole in Pretoria is intussen weer aangesluit nadat dit vroeër weens die wanbetaling van hulle rekeninge afgesny is. Die departement van onderwys het onderneem om R10 miljoen van die agterstallige skuld te betaal, waarna die skole se elektrisiteit oor die naweek weer aangesluit is.