Pretoria kry slim-kragmeters

’n Woordvoerder van die Pretoria-metroraad, ene Lindela Mashigo, sê ’n groot deel van die stad kan die einde van Desember toegerus word met slim-elektrisiteitsmeters, en die res van die stad sal glo toegerus word in 2015.

Inwoners in Pretoria se suidelike en sentrale gebiede gaan glo eerste toegerus word met die meters.

Sy sê die installering by woonhuise volg op die suksesvolle aksie wat vroeër van stapel gestuur is toe sakeondernemings met die meters toegerus is.

Die meters vervang die vooraf-betaal meters wat nou as verouderde tegnologie beskou word.

Die nuwe meter is glo “peuter- en verneuk” bestand wat met ’n alarm toegerus is om die munisipaliteit dadelik in kennis te stel dat iemand op ’n gegewe plek besig is om te peuter aan die meter.

Verbruikers word glo met skriftelike kennisgewings verwittig wanneer die nuwe slim-meter by die huis geïnstalleer gaan word.