Pretoria geknyp om grond te verkoop

Die metroraad van Pretoria gaan 82 stukke munisipale grond, waaronder ‘n deel van die Rietvlei-natuurreservaat is, verkoop om hom uit sy ergste finansiële verknorsing te probeer red.

Die verkoop van die grond teen ‘n geraamde waarde van meer as R680 miljoen is op ‘n spesiale raadvergadering goedgekeur. Hiermee word die “familie se juweliersware” verkoop, aangesien dit  hoofsaaklik oop openbare ruimtes en ‘n deel van die Rietvlei-natuurreservaat insluit, aldus die opposisie.

Dit is as die waardevolste bates beskryf vir die stad en die land se erfenis. Boonop word inkomste daaruit gegenereer en gee dit geleenthede vir die toerismebedryf en verskaf rekreasiefasiliteite vir inwoners, was die verontwaardige reaksie op die raad se planne.

Die algemene mening is dat die verkoop van hierdie stukke grond nie die metroraad se geldprobleme, oftewel “bankrotskap” sal keer nie. Die raad word ook daarvan beskuldig dat die verkope onwettig sal wees omdat die regte prosedure nie gevolg is oor onder meer openbare deelname nie.