Praatjiemakers laat my gril

Geagte Redakteur

Die praatjiemakers van die politiek laat my rillings kry. Van hulle sit mos daar in die parlement om verlore slaap in te haal, net om ’n dag of week later in ’n onderhoud met die media, veral in lewendige uitsendings van radio en tv-programme, hulle standpunte en kritiek oor te dra sodat die luisteraars en lesers beïndruk kan wees met wat hulle te sê het.

Hulle braak gal oor die polisie wat nie hulle werk behoorlik doen nie, tjank oor kapings wat toeneem, vertel met smaak hoe die land agteruit boer, en verwys dan op die grootskaalse smokkelhandel, renoster stropery asook die vrotsige diens by staatsinstellings soos hospitale en klinieke, en dan sommer in dieselfde asem hulle kommer uitspreek oor skole se swak standaard en bedenklike dissipline.

Nouja, wat hulle sê is alles waar – dit is immers die boodskap wat behoudendes aan die spul politici probeer tuisbring het voor die oorgawe van 1994.

Toe gaan ons mos stembus toe – om te “ja” of te “nee” waaroor nou getjank word.

Toe verneuk hulle nog met die stemmery, en maak dit ’n reuse “Ja-oorwinning vir chaos”.

Die tjankbalies het gestem vir hierdie bedeling, so hulle moet nou maar geniet wat hulle beleef – ek gril vir die praatjiesmakers, en hoop hulle verstik in hulle liberalisme!

Hulle laat my dink aan die sportmalles van weleer, wat die resies geniet het terwyl Rome brand.

Groete en dankie vir ’n puik koerant wat deurlopend die korrekte perspektiewe stel.

Bert Theron

Johannesburg