Pop-Koch en Hofmeyr saak in hof

Die hofsaak oor die teistering van die sanger, Steve Hofmeyr en sy gevolglike verlies aan inkomste begin op Donderdag 27 November in die Randburgse landdroshof.

Die buikspreker en rubriekskrywer, Conrad Koch, en sy pop, Chester Missing, is die teenparty oor ‘n veldtog en persoonlike aanmerkings wat op Twitter teen Hofmeyr gemaak sou wees.

Weens die veldtog wat Koch teen Hofmeyr gevoer het oor sy uitspraak omtrent apartheid op Twitter, het die borge van die Afrikaans is Groot-konsertreeks onttrek en is miljoene rand se verlies gely. Die onttrekking van Pick n Pay en Land Rover het ten minste tot ‘n verlies van R5 miljoen gelei, word aangevoer. Kansellasies van Hofmeyr se vertonings en die onttrekking van ander borge sou ten minste tot ‘n verdere R5 miljoen se verlies bygedra het.

Dr. Dan Roodt van die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (Praag) sal as belanghebbende namens Steve Hofmeyr die hofsaak behartig. Die sanger is in Kaapstad waar hy aan vertonings van Afrikaans is Groot sal deelneem en sal nie self die hofverrigtinge bywoon nie.

Koch het in sy hofstukke onder meer aangevoer dat Hofmeyr en Roodt ‘n “marginale groepie van 1% Afrikaners verteenwoordig” en dat ‘n hoofstroomorganisasie soos Afriforum hom van sowel Hofmeyr as Roodt se uitsprake gedistansieer het.

Vryheid van spraak (by monde van sy pop) dien as een van Koch se hoofbetoë en hierin geniet hy onder meer die steun van die redaktrise van die koerant, City Press, wat aan die Naspers/Media24-groep behoort. Ferial Haffajee het ‘n verklaring by die hof ingedien om Koch te steun. City Press en koerante in dieselfde stal se beriggewing oor die Koch/Hofmeyr-saak spreek vanself.

Koch het ondanks ’n tussentydse hofbevel wat vroeër teen hom bekom is, volgehou met ‘n Hofmeyr-vendetta.

Foto – Chester Missing