Politieke kruispad bereik

Storms woed deesdae kort-kort in die parlement en dit gee blyke van hoe sat Suid-Afrikaners vir die ANC-oorheersing is.

In die jongste opstootjie het parlementslede van die opposisiepartye uit hulle stoele gespring en vir sowat 40 minute was daar pandemonium. Die lede was hoogs ontevrede omdat die speaker, Baleka Mbete, probeer het om die tyd wat vir mosies geskeduleer is, te beperk.  Hulle het onder meer gedreunsing, “she must go” en daarop aangedring dat sy haar besluit moet omkeer.

Die chaos het net na middagete losgebars toe Mbete haar skielike besluit opgedis het.

Natuurlik was ‘n debat oor die ad hoc komitee (bestaande net uit ANC-lede nadat die opposisie onttrek het) se Nkandla-verslag die heel eerste item op die agenda na middagete. En die verwagting was dat die opposisie die geleentheid sou gebruik om ‘n mosie van wantroue in president Jacob Zuma in te stel.   

Mbete het uiteindelik bes gegee, maar die sitting het eers ure later begin na ‘n oor en weer gesnouery wat selfs gelei het tot ‘n fisiese konfrontasie tussen ANC en Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV) in die openbare galery.

Die gort was behoorlik gaar toe die ANC boonop die opposisie daarvan beskuldig het dat hulle die publiek oor Nkandla mislei.

Uiteindelik het die ANC bloot sy meerderheid gebruik om hulle Nkandla-verslag deur te stormram. Die verslag, waarin Zuma heeltemal blaamloos verklaar word, is met 210 stemme teen 103 aanvaar.

Ses van die opposisiepartye in die parlement beoog om die wyse waarop die proses hanteer is, te bevraagteken en wil Zuma forseer om ‘n billike deel van die R246 miljoen se sekuriteitsopgraderings by Nkandla te betaal.

Maar Zuma skitter steeds in sy afwesigheid in die parlement en sit op die oomblik by ‘n G20-beraad in Australië.