Polisiestasie loop deur na herrie by munisipaliteit

‘n Inbraak het by die Ventersdorpse polisiestasie plaasgevind toevallig nadat daar kort tevore ‘n drama by die munisipaliteit op die dorp afgespeel het.

‘n Skootrekenaar is tydens die inbraak gesteel wat aan ‘n munisipale werker behoort en sou dien as ‘n bewysstuk in ‘n ander saak. Tagtig pakkies sigarette is ook gesteel toe die inbrekers deur die dak toegang tot kantore aan die agterkant van die stasie gekry het. Die sigarette sou glo verband hou met die goed van ‘n smokkelhandelary waarop beslag gelê is.

Daar word vermoed dat drie mans die inbraak uitgevoer het.  Aldus ‘n woordvoerder van die polisie, kolonel Henry Vermeulen, weet die polisie wie dit is en word daar verwag dat hulle binnekort aangekeer sal word.

In ‘n onlangse voorval op die dorp het die burgemeester, Cecelia Phoyane, volgens ‘n amptenaar, ‘n skootrekenaar gegryp en ‘n paar keer teen die grond stukkend geslaan.

Sy het saam met twee ander raadslede in die munisipale kantore gestorm waar sy die geskorste munisipale bestuurder, Joel Makade, gekry het. Die poppe het glo daarna behoorlik gedans.

Makade is, na wat berig word, vroeër deur Phoyane geskors sonder dat die munisipale raad daaroor ‘n besluit geneem het.

‘n Saak van opsetlike saakbeskadiging word teen die burgemeester ondersoek.