Polisiebeamptes maklik omgekoop

 

Vier van die blitspatrollie se konstabels is vasgetrek en gearresteer nadat hulle omkoopgeld aanvaar het van ’n vrou wat saam met ander ’n besending valsnaam-tekkies vervoer het.

Die konstabels van Witrivier, in Oos-Transvaal het glo ’n bussie, gelaai met ’n vrag nagemaakte All Star-tekkies, tussen Nelspruit en Middelburg nagegaan en die bussie toegelaat om verder te ry sonder dat daar teen hulle opgetree is.

Die vrag tekkies se straatwaarde word op sowat R220,000 geraam.

Die bussie is toegelaat om verder te ry nadat die beamptes glo geld van ’n insittende vrou aanvaar het.

Die konstabels was verplig ingevolge die reëls wat geld vir die feesseisoen, om die bussie te deursoek, wat hulle wel gedoen het.

Die insittendes is ook ondervra nadat die tekkies ontdek is in die voertuig, maar is toe blykbaar omgekoop met ’n onbekende bedrag geld.

’n Ooggetuie het gesien hoe die vrou in die bussie, geld aan die beamptes gee, waarna die voertuig weggery het.

Die bussie is egter weer naby Middelburg deursoek, en dit is toe dat die insittendes erken het dat hulle geld betaal het aan die vier konstabels.

Die inhegtenisneming van die vier was glo ’n blote formaliteit.

Die vrou is aangekla vir die besit van onwettige goedere, en die beamptes omdat hulle omkoopgeld ontvang het.