Polisie ondersoek bonatuurlike verskynsels

Die polisie moet soms ondersoeke doen na bonatuurlike verskynsels, en daarom is 40 polisiebeamptes, wat spesiaal daarvoor opgelei is, in ’n afdeling geplaas om die diens te verrig om sulke klagtes na te gaan.

Die polisiebeamptes is egter nie in ’n vaste eenheid geplaas nie.

Die vreemde “diens” is deur die Minister van Polisie, Nkosinathi Nhleko, bekend gemaak in ’n skriftelike antwoord aan die Nasionale Vergadering.

Van die belangrikste ondersoeke hou glo verband met “okkulte en ander soortgelyke spirituele misdrywe”

Die speurwerk word ook gedoen om sogenaamde “moetie-verwante” sake te ondersoek asook die “onwettige inisiasie” wat dikwels voorkom.

Die polisiebeamptes het glo ook die taak om mense wat geteiken word weens ’n alternatiewe geloof, te beskerm.

Dit is nie bekend of die opgeleide groep ook verskynsels soos die tokolosie sal ondersoek as hulle daaroor klagtes ontvang het nie.