Poetin magtigste man in wêreld

Die Russiese leier, Wladimir Poetin, is vir die tweede agtereenvolgende jaar as die magtigste man in die wêreld aangewys.

Die Amerikaanse president, Barack Obama, is vanjaar weer in die tweede posisie volgens Forbes se jaarlikse lys van die wêreld se invloedrykste mense.

Volgens Caroline Howard van Forbes sal niemand Poetin ‘n “goeie ou” noem nie, maar het verwys na die wyse waarop hy die Krim-gebied vroeër vanjaar beset het en die rol wat hy sou speel in die oorlog in die Oos-Oekraïne.

“Niemand sal hom ooit as swak beskryf nie,” het sy opgemerk.

Obama se sake is omgekrap deur onder meer die oorlog teen die ektremiste van die Islamitiese Staat (IS), waar sy huiwering om beslis op te tree teen hom getel het.

Nou het die Republikeine nog boonop die Demokrate ‘n bloedneus gegee in die pas afgelope middeltermyn verkiesing in Amerika.

Derde op Forbes se lys is die Chinese leier, Xi Jinping, en pous Francis in die vierde posisie. Die Duitse leier, Angela Merkel, is vyfde en dit maak haar die wêreld se invloedrykste vrou.