Plakkers kla by Menseregtekommissie

Die inwoners van ’n plakkerskamp naby Krugersdorp gaan hulle nou tot die Menseregtekommissie (MRK) wend omdat hulle op ’n ou mynhoop woon waar daar glo radioaktiewe stof vrygestel word wat die plakkers se gesondheid bedreig.

Die plakkers wat uit eie vrye wil hulle plakkershutte en kaias daar opgerig het in 1997, is nou ontevrede met hulle woonplek.

Die sowat 2,000 inwoners vra nou dat die MRK hulle te hulp moet kom sodat hulle ander blyplek kan kry.

Die direkteur van die Federasie vir Volhoubare Omgewing (FVO) sê die inwoners van die plakkerskamp se vertoë om ander woonplek te kry, het tot hede geen vrugte gelewer nie en val telkens op dowe ore.

Intussen is vasgestel dat die radioaktiewe vrystellings op die mynhoop sowat 12 keer sterker is as wat in die natuur vrygestel word onder normale omstandighede.

David Letsie, ’n burgemeesterskomiteelid vir huisvesting in Mogale City, sê die plaaslike owerheid het onlangs R10 miljoen begroot vir huisvesting op ’n ander terrein vir die inwoners van die plakkerskamp.