Parlement het weer uitgerafel

Die ANC-bewind se fokus op bysake het nogmaals in sy gesig ontplof toe opposisiepartye geweier het om hulle te laat meesleur deur praatjies oor die herstel van die parlement se waardigheid.

Die opposiepartye dring daarop aan dat die beskerming van president Jacob Zuma deur die ANC in die parlement beëindig moet word. Hulle eis dat hy vrae in die nasionale vergadering moet beantwoord en wil slegs weet op watter datum hy sy verskyning gaan maak.

Zuma was laas op 21 Augustus in die parlement.

‘n Algehele dooiepunt is met die samesprekings bereik omdat die opposisie dreig dat die parlementêre proses in gedrang is. Van die opposisiepartye wil eers hê dat Zuma moet verantwoording kom doen oor sy Nkandla-uitgawes en ander vergrype voordat hy sy volgende staatsrede sal kan hou.

Daar het dus niks gekom van adjunkpresident, Cyril Ramaphosa, se pogings om die opposisie besig te hou met ‘n tweede rondte onderhandelings om ‘n ooreenkoms te bereik oor die herstel van die parlement se waardigheid en statuur nie.

Die onderhandelings het uiteindelik heeltemal platgeval toe die opposisiepartye uitgestap het.

Volgens Ramaphosa het die ooreenkoms wat tydens die eerste rondte onderhandelings bereik is, skipbreuk gely omdat die opposisie daarop aangedring het om ‘n mosie van sensuur teen Zuma in te stel. Dit was glo heeltemal teen die gees van die ooreenkoms wat bereik is.