Palestyne en Jode gryp-gryp mekaar

Vrese bestaan dat ‘n hernieude Palestynse opstand op hande is na die jongste aanval in Jerusalem waarin vier Joodse rabbi’s in ‘n aanval by ‘n sinagoge omgekom het.

Twee Palestyne het die vier mans in ‘n sinagoge in die ultra-ortodokse Joodse buurt in Wes-Jerusalem met ‘n slagtersmes en vuurwapen doodgemaak voordat hulle buite die sinagoge tydens ‘n skietgeveg deur die polisie doodgeskiet is.

Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, het die moorde tesame met ‘n reeks aanvalle die afgelope tyd as deel van die “stryd om Jerusalem” beskryf. Hy het die Palestynse president, Mahmoud Abbas, daarvan beskuldig dat hy die geweld in die stad aanstig. Abbas het egter die aanval veroordeel en bygevoeg dat die doodmaak van burgerlikes, desnieteenstaande wie dit gedoen het, veroordeel word.

Hewige spanning is die afgelope tyd weer aan die oplaai tussen die Palestyne en Jode in Jerusalem, ander dele van Israel en die Palestynse gebiede wat deur Israel geokkupeer word. Die Palestyne is woedend weens die uittartende wyse waarop daar volgehou word om Israelse nedersettings in die Wesoewer-gebied en Oos-Jerusalem te bou.

Botsings het uitgebreek in Oos-Jerusalem, waar die twee Palestynse aanvallers vandaan kom, toe die Israelse veiligheidsmagte in die buurt beweeg het om mense in hegtenis te neem.

Foto – Benjamin Netanyahu