OVK vra OB vir hulp

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het die Openbare Beskermer (OB) gevra om twee van sy senior lede te ondersoek. Bewerings van wanbestuur en onwettige optrede word gemaak. 

Die OVK is deesdae kort-kort in die nuus. Gerugte van ‘n magstryd in die organisasie is gesterk deur onderhoude wat gevoer is om die voormalige OVK-voorsitter. Pansy Tlakula te vervang. 

Hoewel die OVK dit nie erken nie, word die name van Terry Tselane, adjunk-voorsitter en eerw. Bongani Finca, OVK-kommissaris t.o.v. wanbestuur en geldelike misbruik genoem.

Wat die bewering van geldelike misbruik baie ernstig maak is die feit dat Tselane en Finca as adjunk-voorsitter en kommissaris jaarliks R1,996 miljoen elke verdien. Tog kla van die ander werkers dat hulle selde op kantoor is. 

Die puntenerige Finca weier om in die OVK se Verwoerdburg- of Oos-Londenkantoor te werk. Gevolglik huur die OVK vir hom ‘n suite in ‘n kushotel in Oos-Londen as kantoor. Verder word daar ook vir ‘n persoonlike assistent, drywer, voertuie en persoonlike sekuriteit opgedok.

Tselane het duur smaak as dit by etes en onthale kom. Hy eet graag eksotiese kos en drink duur drank by een van die duurste restaurante in Johannesburg en het opdrag gegee dat alle rekeninge aan die OVK gestuur word. Hy het ook ‘n media-spesialis aangestel sonder om prosedures te volg.