Op die Volksakker – Waarheen?

Verandering of verval?  Eenheid ten alle koste?

“Verandering” het ´n gonswoord geword oor die afgelope dekades. So alledaags, dat vele slim sê-goed die lig sien, (klaarblyklike) kundiges daaroor skryf en seminare aanbied oor “verandering” in hierdie of daardie veld.

Dit word selfs na die toppunt gedryf in die bestuurswese, waar boeke al reeds in die 1990’s beskryf hoe om chaos te benut.

Wanneer ons vandag rondom ons kyk, word die eerste vraag noodwendig aan ons opgedwing. Maar die antwoord is nie so eenvoudig soos wat in ons huidige omstandighede mag blyk nie.

Ons moet versigtig besin, aangesien tye en omstandighede wél voortdurend verander en ons daarom moet waak dat dinge ook nie sommer net hulle loop neem nie.

Ons moet as volk begin om binne die raamwerk van werklikhede in 2014 weer, menslik gesproke, ons sake en ons toekoms in eie hand te neem.

En dit begin by die vrae hierbo.

´n Volk is ´n lewende, dinamiese samestelling van sy volksgenote, gesinne en gemeenskappe, en dit is vir oorlewing noodsaaklik dat daardie volk sy kernwaardes in stand sal hou, sal oordra aan opkomende geslagte maar veral dat hulle dit élke dag, op élke lewensterrein sal uitleef.

As hierdie bekend klink, so kort na Hervormingsdag, dit behoort!

Ons is immer geskape as mense, maar geplaas in volke!  Natuurlik moet ons dan onmiddelik vra na ons skeppingsdoel, en dit is om oral, altyd vir God (ons Skepper) ´n volk te wees!

Wanneer ons dus hierdie volkswaardes, ook ons volksideale, aan verandering begin onderwerp sonder om waaksaam te wees, is verval die noodwendige gevolg.

Die verval in sosiale en fisiese strukture rondom ons is uiteindelik net die resultaat van die volksverval wat gespruit het uit ondeurdagte verandering.

Wat die vraag oor eenheid na vore bring, want ons sien ook rondom ons die resultaat van volks-verdeeldheid. 

Met rég gaan daar stemme op vir eenheid: volksgenote, broers en susters uit ´n trotse volk met ´n eerbare geskiedenis moet saamstaan.

Maar kan ons saamstaan op die veranderde ‘waarde’-stelsels wat vir so baie aanvaarbaar geword het?

Kan ons saamwerk wanneer ideale nie net uiteenlopend nie, maar onderling uitsluitend geword het?

Ons kan hierdie vraag eintlik maklik uit ons geskiedenis antwoord:

Dit is maklik om vandag terug te kyk en te sê die onderskeid tussen Bittereinder en Hendsopper het geroep om heling  –  maar die resultaat was die Rebellie van 1914 en permanente politieke verdeeldheid!

Die strewe na eenheid, tussen nie net Afrikaners onderling nie, maar tussen Afrikaans- en Engelssprekende Suid-Afrikaners, help ons om in enkele dekades van die middel 1920’s tot in die 1970’s op baie terreine wêreld-leidende prestasies te behaal, en op haas elke ander terrein ons eie volk én ander werklik op te hef, werklik mense se omstandighede tasbaar te verbeter.

Maar wanneer die eenheids-monster uiteindelik aanhou eis dat volksonderskeid laat vaar moet word, swig selfs stoere volksmense onder daardie druk, reeds in die 1950’s.  Dit sou uiteindelik in die 1990’s ´n sogenaamde “nuwe’ Suid-Afrika baar.

Kom ons weeg die woorde én dade van elkeen wat voorgaan op die volksakker.

Ons weeg dit op die skaal van Bloedrivier, ons Vryheids-oorloë en ons volksideale van volkome, soewereine vryheid.

Bo-al weeg ons dit op die skaal van ons skeppingsdoel, om vir God ´n volk te wees.

Dan kan ons begin onderskei tussen positiewe verandering, oftewel volksGROEI, en blote verandering as modegier.

Dan kan ons ook ware volkseenheid op ´n gesonde volksakker nastreef, dalk met minder, maar sekerlik meer opregte volksgenote.

En kom ons waak oor ons totale volkserfenis, ook oor mekaar en hou mekaar op koers!

Want die hartseer is dat die vyand in eie geledere soveel meer verwoesting kan saai as hulle wat buitekant staan.