Op die Volksakker – Veterane-dag vir die Afrikaner

Jaarliks, op 11 November, staan baie van ons ´n oomblik stil en dink aan die veterane wat oor dekades, onbaatsugtig geveg het toe hulle daartoe opgeroep is.

Dit is gepas om só ´n herinnerings-geleentheid te huldig, vir wie die hoogste offer gebring het, wie lewenslank letsels gedra het, en steeds dra, maar ook vir elke jong man wat ook die onsigbare letsels van oorlog dra  –  oorlog bring immers meestal die swakste van ons swak kenmerke na vore.

Ook moet ons onthou dat oorlog meermale handel oor die begeertes van ´n klein magskliek, wat hulleself en hul naaste volgelinge dan ook gerieflik uit die oorloë hou wat hulle so ligtelik veroorsaak in hulle mag- en hebsug.

So is dit uiteindelik minder die opponerende soldaat, as die imperialis daaragter, wat die ware vyand is.

Om 11:00, op die 11de dag van die 11de maand, 1918:

´n Skietstilstand wat die “oorlog om alle oorloë te beëindig” tot einde bring.  Wêreldleiers verklaar met bravade “nooit weer nie” en allerlei slim planne vir vrede volg.

Maar soos met alle mense-planne sou die vrede van Versailles die saad vir ´n veel bloediger oorlog saai:

´n Oorlog van onder andere internasionalisme teen nasionalisme en volke se reg tot vryheid; 

Die daaropvolgende “koue oorlog”, wat nie net vryheid bedreig het nie, maar teen die Christendom gemik was;

Asook die gevolglike verbrokkeling van beskaafde state-naasbestaan inlei, wat uiteindelik ook ons land en ons vryheid sou eis.

Hier is dan ook een aanknopingspunt by veterane-dag vir ons volk.  Baie direk dink ons onwillekeurig aan die opoffering van lede van die SAW en SAP, die duisende jong Dienspligtiges, wat ons land en ons vryheid ook teen sowel die internasionale kommunisme, as die internasionale geldmag, verdedig het.

Ons dink ook hoe die volksverraad in 1989-94 verswaar is deur hierdie soldate vir die ANC-wolwe te gooi, sodat die politieke meesters in gerief kan aftree.  Interessant dat die troue generaals self slagoffers van politiek sou word voordat hulle offisiere en manskappe aan die ANC uitgelewer is deur die oorblywende, gedienstiges.

Dit was ongelukkig telkens die lot van die soldaat: wanneer hulle politiekery in geweld ontaard, gryp die politikus vinnig na die soldate vir hulp, net om hulle daarna weer te verstoot, hulle meermale te beskuldig van onmenslike optrede, maar gerieflik verswyg dat politiekery die katalisator vir oorlog was.

Daar is egter ook ´n positiewe sy hieraan – ons volk, in sy wese Christelik-Protestants, het deur sy hele bestaan geen offensiewe oorlog aangeknoop nie:

Die veldtog teen die Matabele en die Zoeloes was die gevolg van eerste aggressie teen die Voortrekkers;

Die oorlogsverklaring op 11 Oktober 1899 was afgedwing deur die imperiale politiekery van Milner en sy geldmag-meesters;

Die aggressie teen Duits-Wes is deur die volk teengestaan en kan dus as ´n daad van politieke volksverraad deur verloopte politieke leiers beskou word.

Maar waar volksgenote op vreemde slagveld die wapen opgeneem het, was ons optrede steeds sprekend van ons volkswaardes, ongeag die politieke doelwitte.  Die dade spreek van heldhaftigheid, van eerbaarheid, van onbaatsugtige trou aan die gesag oor hulle gestel.

En dit is dan ook sprekend dat voor en na 1948 geen ware volksleier betrokke geraak het by oorloë ten behoewe van imperialisme of geldmag-belange nie, selfs waar dit soos in geval van Generaal Hertzog, hom sy politieke loopbaan sou kos.

Waar hierdie veterane se optrede dus lofwaardig bly, mag ons in 2014 nie die waarskuwings van 1914, 1939 en uiteindelik 1989-94 vergeet nie.

Kom ons huldig ons veterane, maar kom ons waak om nie óns geslag jongmense, nou of in die toekoms, ook op die wêreldmag-altaar te offer nie.

Laat ons, in die woorde van ons volkslied, nie terugdeins indien die offers gevra word vir ons God, vir ons volk, vir ons vryheid nie.