Op 109 nog lus vir lewe

Mev. Joan McCready wat die afgelope Dinsdag haar 109de verjaardag gevier het in Witrivier in die Laeveld, is nog lank nie moeg vir die lewe nie.

Sy woon in die Macadamia-oord vir bejaardes en het lekker geglimlag toe sy verras is met ’n yslike groot koek vir haar verjaarsdag.

Mev. Joan is op 11 November 1905 gebore in Engeland, waarna sy haar skoolopleiding by die Manchester High School For Girls voltooi het.

Die skool, wat kennis geneem het dat sy vanjaar 109 jaar oud word, het self ook ’n geskenkpakkie gestuur wat blykbaar net vertraag is deur die posaflewering wat in die land veel te wense laat.

As jong danseres het sy selfs deel uitgemaak van die wêreldbekende Russiesie dansgroep en sy was by geleentheid die dansende swaan in die bedryf.

Later het sy en haar man verhuis na Suid-Afrika, en na sy dood het die dokter haar aanbeveel om na ’n warmer deel van die land te verhuis.

Sy is later weer getroud, en Samual McCready is in 1992 oorlede aan kanker.

“Sy het ’n wonderlike humorsin en doen nog van die ligter take graag self om haar besig te hou, want sy geniet nog ’n redelike gesondheid”, het ’n vriendin gesê.